Antjie Krog
Soveel kere sien ek jou op vreemde reise gaan
Soveel kere bly ek op my verlate oprit staan
Ek sluit die voordeur vinnig teen 'n wit albaster maan
en vou my arms rondom my -
my oë smeul jou naam
Soveel jare bly ek reeds my hart alleen bewoon
deur dae wat verkleur van blou tot oker silikoon
Wolke in die winterson bly voortvou aan 'n droom -
teen die draad vurk bome
hulle roerlose patroon
Saans in koue strate dwaal ek doelloos in my jas
Ek sien verlate winkels, 'n pop wat liglangs tas
Papiere waai verkreukel; met ek wat nêrens pas
Dit bloei daar waar ons eens
aan mekaar so vas was
Soveel kere sien ek jou gestalte in my deur
Soveel kere voel ek hoe vreemd is alles weer
Dan is jy skielik by my en ek het geen verweer
hoe ruik jou trui, hoe geur jou stem -
die kilheid word besweer
Soveel kere sien ek jou op vreemde reise gaan
Soveel kere bly ek op my verlate oprit staan
Wolke teen die winterson bly voortvou aan 'n droom -
teen die draad vurk bome